
Spel en leesprobleme: Opvoedkundige Sielkundige raad
Spel en leesprobleme: Inleiding
“Help! My kind sukkel met spel, skryf en lees!” Dis ’n noodkreet waarmee opvoedkundige sielkundiges daagliks te doen kry. “Niemand het my ooit gesê dat daar enige probleem met my kind is nie!” Dis weer ’n baie algemene uitdrukking van ’n ouer se frustrasie met ’n kind wat skryf, spel en leesprobleme ervaar.
Spel en leesprobleme: Die basis
Het jy al ooit aan die volgende gedink: Ten einde te leer spel, lees en skryf, moet jou kind die volgende weet:
- wat die name van sy liggaamsdele is;
- waar sy linker- en regterkant is (belangrik: om dit werklik te ken, moet hy ook weet waar links en regs is as hy byvoorbeeld na ’n ander kant toe kyk);
- deeglik kennis dra van die grondbeginsels: voor/agter; bo-op/onder; langs; tussen; voor/na; en so meer.
Spel en leesprobleme: Begin hier
Jou kind moet ook (onder meer) die volgende kan doen ten einde gereed te wees om skryf- en leesvaardighede aan te leer:
- huppel en galop (ritmiese bewegings);
- stap, draf, hardloop (ritmies en op die maat van musiek);
- op ’n reguit lyn vorentoe en agtertoe kan loop (sonder om vir sy voete te kyk en sonder om langs die lyn te trap);
- vloeiende en egalige skrifpatrone kan maak.
Spel en leesprobleme: Wat?
Bogenoemde voorbeelde klink vir baie ouers na ’n spul twak, veral as hul kind ook die volgende moet kan doen: sterspronge, op een been staan, touspring, eenbeentjie of hinkspel (“hopscotch”) kan speel, ritmiese patrone kan “na-klap” (“copy”), krale kan inryg, netjies kan knip, ’n bal kan vang, skop, gooi, bons en so meer.
Spel en leesprobleme: Dis als oor ritme

Die rede waarom jou kind al bogenoemde aktiwiteite moet kan uitvoer, is omdat lees en skryf ritmiese bewegings behels. Bogenoemde aktiwiteite vorm met ander woorde deel van die boustene vir lees en skryf. ’n Kind wat byvoorbeeld nie weet waar die linker- en regterkant van sy lyf is nie, kan probleme ervaar om tussen b en d te onderskei. ’n Kind wat nie weet waar voor of na, of eerste/middelste en laaste is nie, sal moontlik probleme met spelling en die volgorde van letters ervaar soos byvoorbeeld: mat – watter klank hoor jy eerste/laaste/in die middel of voor/na.
Spel en leesprobleme: Wanneer moet ek begin?
Baie ouers vra die vraag: Moet ek my kind formeel leer lees en skryf voor graad 1? Die antwoord is “nee” – gaan speel net met jou kind, want so berei jy hom voor om gereed te wees om te leer lees en skryf. En wees versigtig om nie te dink dat as jy jou kind ’n oulike werkboekie in die hand stop en saam met hom deurwerk, hy goed voorberei word vir lees en skryf nie. Wat jou kind nodig het, is (in hierdie volgorde):
Driedimensionele aktiwiteite:
- opdragte soos: “Staan agter/voor/langs die swaai”;
- “Skop die grootste bal”;
- “Raak met jou regterhand aan jou linkeroor”.
Tweedimensionele aktiwiteite:
- kaartspeletjies;
- bordspeletjies;
- penborde;
- opdragte soos: “Sit die rooi sirkel aan die linkerkant van die blou sirkel”; “Watter prent is die naaste aan jou?”.
Eendimensionele aktiwiteite:
- papierwerk en werkkaarte.
Jou kind moet eers driedimensioneel kan speel en leer voordat hy gereed is om op tweedimensionele vlak te speel en te leer. Die eendimensionele vlak is die laaste in die ry.
Spel en leesprobleme: Waar kry ek hulp?
Waar kan ’n ouer wie se kind sukkel met spel en lees aanklop vir hulp? ’n Opvoedkundige sielkundige kan ’n assessering doen ten einde te bepaal wat jou kind se verstandelike vermoë is en indien wel, watter gapings jou kind toon. ’n Opvoedkundige sielkundige sal jou, indien nodig, na ’n arbeidsterapeut verwys, indien jou kind se vaardighede ter gereedmaking van lees en skryf nie vasgelê is nie. ’n Opvoedkundige sielkundige sal ook die nodige verwysings kan maak na ’n pediatriese oogkundige, oudioloog, spraakterapeut en so meer, as sy vermoed dat daar enige probleme in hierdie gebiede is.
Spel en leesprobleme: Nog inligting
Wil jy meer weet hoe om jou kind te ondersteun om gereed te wees vir lees en skryf? Gaan lees dan meer oor onder meer klim en klouter, middellynkruising, balans, luistervaardighede (ouditiewe persepsie) en sigvaardighede (visuele persepsie), sowel as growwe en fyn motoriese koördinasie.
Spel en leesprobleme: Ten laaste
Let wel: Hierdie artikel geld nie slegs vir graad 1-leerders nie, maar is ook van toepassing op ander leerders in die grondslag- en selfs primêre fase (en soms ook sekondêre fase) wat lees- en skryfprobleme het – tensy ander probleme soos disleksie en/of ’n disfunksie in sy brein gediagnoseer is. Indien daar geen disfunksies by jou kind gediagnoseer kan word nie, kan die opvoedkundige sielkundige die nodige verwysings maak na relevante professionele kundiges wat jou kind kan ondersteun. Die deurslaggewende faktor vir sukses word uiteindelik grootliks bepaal deur die ouers se verbintenis (“commitment”) om hul kind tuis met die huiswerk, wat die terapeute gee, te help.
Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat ek vir Maroela Media in 2015 geskryf het.